GESKIEDENIS
Worcester Gimnasium het in 1992 tot stand gekom ná die samesmelting van Worcester Hoërskool en Worcester-Oos Hoërskool. Dié skole het elkeen ’n lang geskiedenis.
Volgens geskiedkundiges is lisensies reeds voor 1700 aan boere toegestaan vir veeweiding in die Breederiviervallei. Teen 1709 is plase tussen die Breederivier en die Romansrivier gevestig. Die eerste plotte vir dorpsontwikkeling is in Februarie 1820 by ’n publieke veiling verkoop. Talle privaat skole is tien jaar later in die dorp en omgewing gevestig.
WORCESTER HOËRSKOOL
Teen 1872 het die Vrye Dorpsdistrikskool reeds 132 leerders op sy register gehad. Die Neutrale Openbare Seunskool, wat Boys’ High School voorafgegaan het, is in Julie 1873 gestig en het 78 seunsleerders gehad. Girls’ High School is in Januarie 1876 gevestig en het 16 meisieleerders gehad. Dié skole het albei bekende skole in die Kaap geword.
Die behoefte aan gemengde skole het wêreldwyd bekend geword, en ná heelwat onderhandeling het hierdie twee skole uiteindelik saamgesmelt. In Januarie 1972 is Worcester Hoërskool op die Boys’ High School-perseel gestig. Die Ou Saal en die noord-oostelike vleuel van die seunskool het behoue gebly. Die Hugo Naudé Kunsskool en die Skoolkliniek is tans in die meisieskoolgebou gevestig. Hierdie samesmelting het ook tot die totstandkoming van Montana Hoërskool in die noorde van die dorp gelei.




WORCESTER-OOS HOËRSKOOL
’n Onderafdeling van die Tegniese Kollege van die Kaap is in 1941 in Worcester gestig. Die skoolgebou (tans deel van die Worcester Gemeenskapskollege se kampus) en een koshuis is in 1942 geopen. Op 1 Januarie 1965 het die kollege se naam na die Worcester Handelskool verander aangesien die opleiding van vakleerlinge aan Drostdy Tegniese Hoërskool toebedeel is.
​
Op 1 April 1968 is die skool deur die Kaapse Onderwysdepartement oorgeneem. Standerd 6-leerders (graad 8-leerders) is vir die eerste keer in Januarie 1974 toegelaat. Voor dít is slegs standerd 8-leerders tot standerd 10-leerders toegelaat. Nuwe ontwikkelinge en ’n groter verskeidenheid vakkeuses het daartoe gelei dat die skool volle akademiese status verkry het en in 1988 het die skool se naam na Worcester-Oos Hoërskool verander.

WORCESTER GIMNASIUM
Talle onderhandelings het daartoe gelei dat Worcester Hoërskool en Worcester-Oos Hoërskool saamgesmelt het. Worcester Gimnasium se deure is in Januarie 1992 vir die eerste keer geopen en Mnr. W. Theron, die laaste skoolhoof van Worcester-Oos Hoërskool, was hier aan die stuur van sake.
​
As Worcester Gimnasium is ons trots op ons erfenis, maar ons het ook oor die jare ’n sterk, onafhanklike identiteit gevorm. Die skool groei elke jaar en spog met leerders wat akademies, en ook op sport- en kultuurgebied, uitblink. Te danke aan die skoolhoof, Mnr. C. Schoeman, bedrewe personeellede en entoesiastiese ouers behaal ons in Suid-Afrika én die wêreld welslae.

TRADISIES WAT ONS BEHOU!
JAARLIKSE PARADEDAG
​
Die jaarlikse Paradedag, wat op die matrieks se laaste skooldag gehou word, is ’n eeu oue tradisie wat ons tot vandag toe met trots in stand hou!




